Deur Prof Johan Hattingh, Emeritus Professor in Filosofie, Universiteit van Stellenbosch.
Volhoubare ontwikkeling en toerisme as ‘n proses van samewerking
IN DIE OPNAME VERLEDE JAAR oor volhoubare ontwikkeling en volhoubare toerisme is die vraag gestel: Wat was die grootste uitdagings en struikelblokke wat jy teëgekom het in die implementering van volhoubare toerisme, en hoe het jy dit oorkom (of nie)?
Op hierdie vraag het respondente elkeen ‘n duidelike standpunt ingeneem, en verskillende struikelblokke uitgelig: Plaaswerkers wat nie gewoond is om oor naweke te werk nie; gaste wat nie gewoond is daaraan om hulle vullis uit te sorteer in verskillende dromme nie; gaste wat fossiele in die veld optel en verwyder om huis toe te neem; gaste wat oornag kamp net waar hulle wil en mors en toiletgeriewe maak van elke bossie; bure en plaaslike omgewingsverenigings wat meer kan saamwerk; plaaslike owerhede wat meer kan doen om paaie in stand te hou en riviere skoon te hou van gemors, opdrifsels en indringerplante.
Al hierdie struikelblokke het een ding in gemeen: mense; en die sentiment by al die respondente vir ‘n oplossing was groter betrokkenheid en onderlinge samewerking ter wille van ‘n gesamentlike poging om volhoubare ontwikkeling en volhoubare toerisme te bevorder.
Sonder om onderling notas te vergelyk het al die respondente ingesien dat opvoeding en kommunikasie, omgewingsopvoeding, die kern is van die proses van verandering wat vereis word vir volhoubare ontwikkeling en volhoubare toerisme.
In hierdie verband is verskillende dinge beklemtoon as deel van hierdie proses van omgewingsopvoeding: om te leer hoe om afval te verminder, water en energie te bespaar, die negatiewe impak van toerisme op die omgewing te verminder, die toe-eiening van kultuurgoedere en omgewingskatte uit te skakel (fossiele in die veld op te tel en huis toe te neem).
Maar dit is in alle waarskynlikheid net die beginpunt. Van die respondente het uitgelig dat omgewingsopvoeding ook die proses insluit van leer hoe om ekologies te leef en te bou. In iets so basies as om ‘n tuin uit te lê op die perseel van die gastehuis (selfs op ‘n woonerf in ‘n dorpsgebied) is dit moontlik om van meet af te beplan om inheemse plante te vestig wat min water gebruik, en gaste van daar al die plantegroei van die streek te laat ervaar.
Die inrigting van die gastehuis self kan die proses van leer om ekologies te leef versterk. Een van die respondente het uitgelig hoe die keuse van boumateriaal kan help in hierdie opsig, en hoe die plasing van iets soos warmwatertoestelle (onder die huis) kan help om leefruimtes in die koue wintermaande te verwarm. ‘n Ander respondent het uitgewys hoe hulle geleer het om die gebruik van plastiek geleidelik uit te skakel en dit te vervang met glasprodukte wat hergebruik kan word.
Dit beteken dat die proses van omgewingsopvoeding nie net in een rigting plaasvind nie, maar omgekeerd ook die leweransier, diegene wat die toerisme-“produk” beskikbaar stel, d.w.s. eienaars en werkers gesamentlik betrek.
Dit kom daarop neer om te leer hoe om saam te werk met ekologiese prosesse wat die natuur, kultuur en die erfenis van die streek betrek. Die Diep-ekoloog Aerne Naess (1912-2009) het hierna verwys as die opbou van ekologiese wysheid, om oor tyd geleidelik meer te verstaan wat dit verg om deel te wees van, en deel te neem aan ‘n geheel van lewegewende en lewensonderhoudende netwerke en interaksies.
Voortbouend op hierdie insig het die konsep van bio-regionalisme ontstaan. Dit gaan uit van die besef dat ons as mense in die algemeen weer moet leer hoe om volhoubaar te leef op ‘n plek en in ‘n streek. Daar is sekere dinge van die moderne lewe wat ons sal moet afleer, en daar is sekere dinge wat ons weer sal moet herroep van ons voorsate of van inheemse bevolkings wat oor eeue heen reeds geleer het om volhoubaar te leef op ‘n plek.
Omgewingsopvoeding, as ons dit deeglik wil doen ter wille van volhoubare toerisme, is dus eintlik ‘n radikale proses van vernuwing, maar ook van restourasie en heropbou. En dit kan moontlik word indien ons bereid is om ons grade en wetenskaplike kennis, nie weg te gooi nie, maar in gesprek te bring met oorgelewerde, tradisionele en inheemse kennis.
As dit gebeur word mondelingse oorlewering, tradisies, en inheemse praktyke net so belangrik as goed-uitgevoerde wetenskaplike navorsing om ons ekologiese verstaan en ons ekologiese wysheid uit te bou.
Dat die grondslag vir hierdie soort diep-ekologiese leer vir ons beskikbaar is, word bevestig deur die respondente in die Sederberge wat aangedui het hoe bewaringsgesinde mense saam groepe van onderlinge samewerking tot stand gebring het om hulle omgewing en alles wat daarbinne is, dierelewe, plante, tradisionele kultuur en selfs oergeskiedenis soos vasgevang in fossiele, te bewaar.
Dalk het hierdie groepe al begin dink soos berge, soos die Sederberge. Dalk is ons uitdaging om meer van hierdie groepe van samewerking te vorm, meer van mekaar te leer, ook van ons voorsate, en so beter te verstaan wat dit van ons vereis om op ‘n plek volhoubare toerisme te bevorder, en so by te dra tot volhoubare ontwikkeling.
