Deur Niël du Toit, Hoof-Uitvoerende Beampte van Go Sustainable Tourism (GST).
Grondbeginsels van volhoubare toerisme
In ’n onlangse artikel in Tourism Update, word die vraag gevra: “Groen sertifisering: Waardetoevoeging of rompslomp?”
Ek bedank die redakteur van Tourism Update vir hierdie artikel, aangesien dit ’n baie relevante vraag vir die toerismebedryf is. Vanuit die oogpunt van Go Sustainable Tourism (GST) sal ek hierdie vraag op GST toepas en probeer om GST se standpunt uiteen te sit – nie oor groen sertifisering nie, maar wel oor volhoubare sertifisering.
In my benadering is ek gebonde aan drie uitgangspunte. Eerstens kom my persoonlike ingesteldheid uit die Taalfilosofie, wat voorskryf dat wanneer ons woorde of frases gebruik, ons aan twee kriteria moet voldoen: ons moet vra wat dit beteken (definisie of beskrywing; ook genoem konnotasie) en waarna dit verwys (praktiese toepassing; ook genoem denotasie).
Tweedens is ek ‘n voorstaander van die beginsel van “small is beautiful” (klein is skitterend) in sakebestuur, aangesien volhoubaarheid slegs toegepas kan word op die plek waar die besigheid bedryf word. Hierdie benadering word beklemtoon deur GST se slagspreuk: “Belê plaaslik, beïnvloed wêreldwyd” (“Invest local, Impact global”).
Derdens word my benadering gedryf deur die konsep van ’n “sin van plek” (sense of place) wat met besoekers gedeel moet word, wat sodoende outentieke ervarings vir toeriste bevorder.
Die bydrae van die Taalfilosofie is insiggewend in die sin dat volhoubaarheid oral op aarde dieselfde beteken, maar dat dit in die praktiese bestuurspraktyk sal verskil na gelang van plaaslike, natuurlike en geografiese toestande, asook plaaslike menslike kulture.
Begin by die grondbeginsels
Enige individu wat ’n besigheid moet bestuur, moet verantwoordelik en aanspreeklik wees vir bestuursaksies. Waar kom verantwoordelikheid vandaan?
As ons na die sielkunde en filosofie draai, leer ons dat die filosofie die totale werklikheid – eindig en oneindig – as sy studie-objek het. Alle ander vakgebiede bestudeer slegs ’n deel van die werklikheid, soos die mediese wetenskap of landbou. Wat ek by die filosofie geleer het, is die gevolgtrekking dat die mens nie deel is van die totale werklikheid nie, maar dat daar ’n afstand – ’n verhoudingsgaping – tussen die werklikheid en elke mens is, waarna verwys word as menslike vryheid.
Die werklikheid is in wese uitnodigend en die mens kan op hierdie uitnodiging reageer. Menslike vryheid is dus die vryheid om op die werklikheid te reageer. Mense kan verantwoordelikheid en persoonlike aanspreeklikheid vir alledaagse gebeure aanvaar. In terme van bestuur kan die mens verantwoordelikheid – aanspreeklikheid – aanvaar deur VIR ’n doel te bestuur en sodoende die werklikheid te bestuur. Ek het by filosowe and sielkundiges geleer dat die wilskrag of gewete van individue – die werklike motief waarom ons dinge doen – voortspruit uit die feit dat ons verantwoordelik is TEENOOR iets of iemand. Daar is dus plek vir die gelowige mens.
Verantwoordelikheid TEENOOR word die Hoër Doel genoem, en die inhoud daarvan is hoogs persoonlik.
Wat is GST? Meet en Bestuur
GST is ’n bestuursmetode vir entrepreneurs in die toerismeverblyfbedryf wat belangstel om hul besigheid VIR volhoubaarheid te bestuur. Volhoubaarheid is die doel of oogmerk van hierdie metode. ’n Vraelys is ontwikkel waarin die vrae as bestuursdoelwitte dien. Die entrepreneur se bestuurstandaard word gemeet aan die hand van ’n verifikasie-oudit wat van ’n internasionaal aanvaarde metode gebruik maak.
Die oudit-uitslag word in beide ’n vertroulike en ’n openbare verslag gepubliseer. ’n Geldige meting van die bestuurstandaard word deur ’n sertifikaat aangedui. Die belanghebbende kliënt kan dus die sertifikaat vertrou.
Taalfilosofiese benadering en volhoubaarheid
Soos reeds genoem, benader die Taalfilosofie woorde of frases volgens die tweeledige kriteria van wat dit beteken (definisie, konnotasie) en waarna dit verwys (toepassing, denotasie).
Eerstens kan ons kyk na die woord “volhoubaarheid” soos dit in die GST-bestuursmetode gebruik word en vra: wat beteken volhoubaarheid?
Die debat oor volhoubaarheid is geformaliseer en het die polities-ekonomiese arena betree met die publikasie van die Brundtland-verslag deur die Wêreldkommissie oor Omgewing en Ontwikkeling in 1983. Die kommissie het volhoubare ontwikkeling (lees: volhoubaarheid) as volg gedefinieer:
“Volhoubare ontwikkeling is ontwikkeling wat in die behoeftes van die hede voorsien sonder om die vermoë van toekomstige geslagte om in hul eie behoeftes te voorsien, in die gedrang te bring.”
My interpretasie vanuit die oogpunt van GST lui:
“Volhoubaarheid word gesien as ’n ekonomiese konsep – ’n sake-entiteit. Toerisme is in die diensverskaffingsektor as ’n vertakking van die ekonomie.”
Tweedens kan ons vra waarna volhoubaarheid verwys, of hoe volhoubaarheid prakties toegepas word in die GST-sakebestuursmetode. Ons sal hierdie vraag in die volgende artikel in hierdie reeks verder uitpluis.
