Volhoubare sertifisering: Waardetoevoeging of rompslomp? Deel 2

Deur Niël du Toit, Hoof-Uitvoerende Beampte van Go Sustainable Tourism (GST).

Ontwikkeling van die GST-bestuursmetode oor 20 jaar

IN HIERDIE artikel sal ons bespreek hoe volhoubaarheid prakties toegepas word in die GST-sakebestuursmetode.

Insameling van inligting

GST is ’n tweeledige, vertroulike, verhoudingsgebaseerde samewerking tussen Teorie en Praktyk. Dit is soos ’n afrigter en ’n atleet. Die Teorie (Afrigter) verskaf kennis via gekontrakteerde akademiese belanghebbendes uit hul stelselmatige studies wat gefokus is op spesifieke kwessies van volhoubaarheid om in breër kennissisteme geïntegreer te word.

Die Praktyk (Atleet) verskaf kennis via die deelnemende sake-eienaars en hul breër, kontekstuele kennis van volhoubaarheid op die speelveld, wat in verband gebring moet word met die gefokusde, teoretiese onderwerpe.

Die teoretiese been verskaf ’n stel bestuurskriteria in ’n vraelysformaat. Dit verwys na die voortdurende bydraes van kundige mense om die bestuursmetode en die verifikasie-oudit te verbeter.

Die praktiese been van sake-eienaars verskaf hul persoonlike, inheemse kennis deur innoverende maniere te ontsluit in die soeke na die verbetering van die metode om die volhoubaarheid van hul besigheid te bestuur.

Om diversiteit te akkommodeer, word elke sake-eienaar gerespekteer as ’n unieke bydraer tot volhoubaarheid in hul unieke plekke, in unieke geografiese streke en bedrywighede binne plaaslike gemeenskappe.

Aanvanklike ontwikkeling van drie elemente van die Bestuursmetode

Die eerste element van die GST-metode is die doel (oogmerk). Hierdie element verwys na volhoubaarheid as ’n onbereikbare doelwit, maar ’n doel om na te streef as ‘n lewenslange leerproses om dinge reg te bestuur.

Doelgerigtheid: Hierdie tweede element verwys daarna om die regte dinge te doen gedurende die hele bestuursaksie. Deur die regte ding te doen in ’n toerismeverblyfbesigheid, beweeg ons na bestuur VIR volhoubaarheid as die doel (oogmerk), via die kreatiewe energie wat gegenereer word deur die voortdurende toepassing van die twee teenoorgesteldes van ekonomiese ontwikkeling aan die een kant en die bewaring van hulpbronne aan die ander kant.

Om uiteindelik doeltreffende bestuur toe te pas om die teiken – die doel – te bereik, is ’n spesiale ingesteldheidsinstrument nodig om jou oog deurentyd op die bal (die doel) te hou. Om die regte dinge te doen (doelgerig) is ’n voorvereiste om dinge reg te doen (doeltreffend).

Die hantering van kontraste in menslike gedrag is normaal. Hoe weet jy wat verkeerd is as jy nie weet wat reg is nie? Hoe weet jy wat mooi is as jy nie weet wat lelik is nie? Hoe weet jy jy is gelukkig as jy nie weet wat hartseer is nie? In ’n dialoog tussen die teenoorgesteldes kan ’n mens uitkom by ’n praktiese manier om relevante idees en situasies te bestuur.

In die strewe na die doel van volhoubaarheid is dit nodig om van die begin af en deur al die stadiums van die hele bestuursmetode twee teenoorgesteldes in jou ingesteldheid te hanteer. Deur volhoubaarheid as ’n ekonomiese konsep te sien en die dialoog tussen Ontwikkeling en Bewaring lewendig te hou, sal dit jou help om gefokus te bly op volhoubaarheid as die doel. ’n Mens kan dit vergelyk met die bestuur van jou motor in die rigting van jou bestemming. Om jou hande op die stuurwiel te hou – die doel – verseker dat jy na die bestemming toe ry.

Hoe kry jy dit reg om by jou bestemming (doelwit) uit te kom? Deur ’n “dialoog” tussen stadiger ry en versnelling. Jy moet beide die versneller en die remme gebruik wanneer nodig om op die pad te bly. Jy sal nie by jou bestemming aankom as jy slegs die een of die ander gebruik nie. Hoe beter jy die dialoog tussen ontwikkeling en bewaring gebruik, hoe doeltreffender sal jy wees (om dinge reg te doen).

Derdens, die strukturele element: Deur gebruik te maak van die filosofiese dissipline van fenomenologie, kan ons na verdere elemente van ’n meetbare bestuursdoelwit soek. As die hoofdoel nie meetbaar is nie, moet meetbare subdoelwitte as geldige items gevind word om te meet.

Volgens die fenomenologie kan ’n iteratiewe proses van die “afskil” van betekenis-lae gebruik word om ’n ingewikkelde konsep te reduseer sonder om die noodsaaklike inhoud te verloor. Hierdie reduksieproses sal lei tot twee gelykwaardige aspekte. Eerstens kan dit die strukturele formaat van die konsep oplewer, en tweedens ook die relevante aspekte rondom elke strukturele element, en sodoende aan die konsep ’n funksionele praktiese gebruik te gee.

’n Mens kan die iterasie van ’n ingewikkelde objek probeer verstaan deur na die menslike liggaam te kyk. As die menslike liggaam aan iterasie onderwerp word, sal dit eerstens die strukturele kant van die liggaam openbaar – die geraamte. Voeg die funksionele elemente soos spiere, organe, ensovoorts by die geraamte, en eers dan word die liggaam bruikbaar.

By GST het die iterasieproses, soos toegepas op die komplekse volhoubaarheidskonsep, gelei tot die 4C-struktuur. Die vier gelykwaardige elemente van die 4C-struktuur kan as volg beskryf word:

Conservation (Bewaring): etiese gebruik van natuurlike en kulturele hulpbronne vir toerismeproduksie

Community (Gemeenskap): die bevordering van voordele vir gasheergemeenskappe by toerismebestemmings

Customer (Kliënt): etiese verbruik van outentieke “sin van plek”-ervarings (sense of place)

Company (Maatskappy): die bestuur van die langtermyn finansiële volhoubaarheid van die toerismebesigheid

’n Eenvoudige skets kan help:

Noudat die basiese elemente van doel, doelgerigtheid en struktuur van die GST-bestuursmetode gevestig is, is die volgende fase my soeke na die funksionele elemente wat as bestuursdoelwitte in ’n vraelys gebruik kan word. Dit sal in die derde deel van hierdie reeks bespreek word.

Posted in Alle Artikels, Toerisme and tagged .