Volhoubare sertifisering: Waardetoevoeging of rompslomp? Deel 3

Deur Niël du Toit, Hoof-Uitvoerende Beampte van Go Sustainable Tourism (GST).

Identifisering van die bestuursdoelwitte

Noudat die basiese elemente van doel, doelgerigtheid en struktuur van die GST-bestuursmetode gevestig is, is die volgende fase my soeke na die funksionele elemente wat as bestuursdoelwitte in ’n vraelys gebruik kan word. Hierdie funksionele elemente kan afgelei word uit die wenke en idees wat deur ’n proses van skakeling gevind is:

  • Leer by ekonome oor die verhouding tussen die Ekonomie en die Omgewing; prof. E.P. Beukes, Professor in Ontwikkelingsekonomie, King’s University College, Edmonton, Kanada: Korrespondensie en aanlyn leer;
  • Bestudering van die relevante werke van akademici Peter Senge en Stuart Hart;
  • Inskrywing op meer as 50 nuusbriewe en die bywoon van webinare.

In die verlengde hiervan:

  • Besoeke aan en kommunikasie met eienaars van toerismeverblyfplekke;
  • Reise oor ’n afstand van byna 100 000 km deur die droë en halfdroë westelike dele van Suid-Afrika: die Weskus, Namakwaland, die Bo-Karoo, die Richtersveld; asook Namibië (Sentrale en Noordelike gebiede); Botswana (wildtuinhuise in die Okavangodelta) en Kenia saam met Nick Ayimba en sy Rural Tourism Network (RTN), vanaf Nairobi tot onder by Kisumu;
  • Besoeke aan die buiteland waar ek die taal verstaan, byvoorbeeld die VK (Verantwoordelike toerisme); Duitsland (Grüne Erde-winkels); die Vlaamse deel van België (Brussel, Gent and Antwerpen); en ’n konferensie in Nieu-Seeland (as lid van Green Globe) in Christchurch en Kaikoura.

Die Vraelys as dryfkrag vir bestuursdoelwitte

Die volgende fase was die ontwikkeling van ’n vraelys onder leiding van prof. Eon Smit, voormalige direkteur van die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool.

Elkeen van die vier gelykwaardige elemente van die 4C-struktuur bevat relevante vrae wat bestuursdoelwitte weerspieël. Die entrepreneur bestuur hierdie doelwitte volgens hul eie standaarde. Die stel bestuursdoelwitte – in ’n vraelysformaat – word jaarliks hersien vir statistiese geldigheid. ’n Assessor verifieer die bestuurstandaarde wat deur die besigheid behaal is deur gebruik te maak van ’n internasionaal aanvaarde ouditformaat, om sodoende die besigheid te sertifiseer vir sy bydrae tot volhoubaarheid op eie bodem. Verifikasie-oudits word elke tweede jaar voltooi.

Bestuur deur doelwitte voeg ’n spesiale waarde toe tot bewaring en volhoubaarheid omdat dit ’n proaktiewe benadering tot nadelige kwessies soos afval verteenwoordig: in plaas daarvan om dit agterna op te ruim, word afval eerder voorkom of verminder. Dit voorkom dus agteruitgang in plaas daarvan dat die natuurlike habitat herstel moet word.

Dit is nodig om die kwessie oor die waarde van die verifikasie-oudit as deel van die Bestuursmetode te bespreek.

Om te verifieer, impliseer die vasstelling van feite met betrekking tot voorgestelde kriteria of bestuursdoelwitte. Verifikasie beantwoord die vraag: “Hoe weet jy dit het werklik gebeur?” Byvoorbeeld, ’n bestuurder in ’n bakkery hersien produksieverslae om te bevestig dat die koekies teen die werklike temperatuur gebak is wat in die resep voorgestel word.

In die geval van GST is die resep die bestuurskriteria waarna ons in die vorm van ’n vraelys verwys: elke vraag dien as ’n bestuursdoelwit WAARVOOR die toerismeverblyfbesigheid bestuur moet word. Die lid beantwoord elke vraag met ja, nee of nie van toepassing nie. Die assessor verifieer die antwoorde as bestuursdoelwitte wat behaal is deur ’n internasionaal aanvaarde instrument te gebruik om die werklike feite rondom elke antwoord te bevestig – geen groenspoeling (greenwashing) vind dus plaas nie.

Die verifikasie-oudit beantwoord dus die vraag om te weet wat werklik rondom elke doelwit gebeur het. Gevolglik kan besoekers die sertifikaat vertrou.

Stigtersgroep van 10 Produkeienaars

’n Stigtersgroep van 10 produkeienaars is gekies om deel te neem aan die verfyning van die Bestuursmetode en het ingestem om geoudit te word.

Die stigterslede het daartoe bygedra om die totale aantal bestuursdoelwitte (vrae) van 300 tot ’n hanteerbare 100 te verminder. Prof. Eon Smit het saamgestem dat die vermindering nie die geldigheid van die vraelys beïnvloed nie. Die berekening van geldigheid sal verbeter namate die aantal deelnemers toeneem. Hulle het daarna deelgeneem om geoudit te word, terugvoer oor die proses gegee en aanbevelings gemaak om GST te bemark.

Uit hierdie oefening het dit duidelik geword dat dit die produkeienaar sowat 45 minute neem om die vraelys te voltooi, en die ouditeur sowat drie uur om die verifikasie-oudit af te handel. Nog drie uur word benodig om die interne en openbare verslae te voltooi.

’n Spesiale verslag oor die Stigtersgroep deur emeritusprofessor Johan Hattingh sal elders hier gepubliseer word. In ’n reeks van vier artikels ondersoek Hattingh die volhoubaarheidsdenke van die Stigtersgroep soos uitgedruk in ’n opname, en bou voort op die huidige denke in omgewingsetiek en volhoubare ontwikkeling.

In die finale deel van hierdie reeks bespreek ons hoe die GST-sertifiseringsproses verband hou met waardetoevoeging en rompslomp, en verken ons die gelyktydige en oorvleuelende effek van die 4C-bestuursmetode om waarde tot voordeel van die teikenmark toe te voeg.

Posted in Alle Artikels, Volhoubaarheid and tagged .